Poenskop-gene binne die Sussex ras

Gedurende die 1950’s het verskeie telers in Engeland met poenskopdiere begin eksperimenteer deur hul koeie met Rooi-Angus bulle te paar. Hierdie praktyk was egter nie baie gewild onder tradisionele Sussex telers nie en die diere kon nie geregistreer word nie.

Op tuisbodem word die eerste melding van soortgelyke kruisings in 1957 gemaak deur P.Pretorius, wie die Keres kudde by Windhoek besit het. Hy is deur Bruce Evans aangeraai om noukeurig rekord van hierdie diere se nageslag te hou, al was hul op daardie stadium nie geldig vir registrasie nie. Die eerste poenskopdiere wat in Suid-Afrika ingevoer is, was twee koeie in 1977. Hierdie koeie het egter geen blywende nageslag geproduseer nie.

Die Britse Genootksap se kuddeboek is in die 1880’s reeds gesluit na ‘n opname van al die rasegte Sussexdiere in die land. Die Suid-Afrikaanse kuddeboek was nooit regtig “oop” nie omrede al ons diere afkomstig was vanuit Engeland. In die 1980’s is beide die Suid-Afrikaanse en Britse Genootskappe se kuddeboeke wel oopgemaak en telers kon die poenskopdiere wat hul tot op daardie stadium geteel het, as aanhangsel diere registreer in ‘n aparte afdeling van die kuddeboek. Solank as wat die kuddeboeke in gedrukte formaat verskyn het, was die diere se rekords in ‘n aparte afdeling gehou. Wanneer ‘n poenskop dier met ‘n horing dier gekruis is, is die nageslag in die poenskop afdeling opgeneem, ongeag hul fenotipe. Die doel was om die horing kant van die boek suiwer te hou.

In die vroeë 2000’s is ‘n groep Suid-Afrikaanse telers na Australië, vanwaar daar toe drie poenskop bulle se semen ingevoer is. Hierdie bulle was Willyung Mervin, Willyung BeeGee en Willyung Jack. Die volgende invoere was in 2011 met die invoer van Wellington 3de van Goldstone, Mayfield Poll Captain 2de en Mayfield Poll Captain 3de deur Huntersvlei.

Daar is dus vandag verskeie poenskop bloedlyne binne ons ras teenwoordig, maar slegs ‘n paar telers wat op hierdie eienskap fokus. Aanvanklik was daar veel meer telers wat van poenskop bulle gebruik gemaak het, maar die belangstelling onder stoettelers het mettertyd gekwyn, hoofsaaklik omrede die eerste poenkopdiere minder diepte en swakker agterkwart ontwikkeling in vergelyking met horing diere getoon het.

Die kommersiële mark in Suid-Afrika verlang egter al hoe meer poenskop bulle omrede die teel van poenskop kallers hul arbeid verminder. Dit is egter nie ‘n vinnige proses nie en ek wil daarom ‘n kort beskrywing van die teorie en die registrasie van hierdie diere by die Genootskap verduidelik.

Vir die doel hiervan word suiwer poenskop diere as PP aangedui om die poenskop allele te verteenwoordig. Horing diere word as HH aangedui. Kruisings word as PH aangedui. Wanneer ‘n dier twee van dieselfde allele besit staan dit bekend as homosigoties (PP of HH) en wanneer dit twee verskillende allele besit staan dit bekend as heterosigoties (PH).

Dit is belangrik om te verstaan dat nie een van die bulle wat aanvanklik ingevoer is homosigoties poenskop was nie, menend nie een van die bulle het twee poenskop allele in hul DNS gedra nie, almal was heterosigoties poenskop oftewel PH. Die poenskop geen is egter dominant, so ‘n heterosigotiese poenskop dier sal altyd poenskop voorkom of “scurs” (klein los horinkies) hê.

Wanneer hierdie diere met horing koeie (HH) gekruis word is daar ‘n 50% kans dat die diere ook heterosigoties poenskop (PH) gaan wees en ‘n 50% kans dat hulle homosigoties horing (HH) gaan wees. Dit is belangrik om te verstaan dat ‘n dier met horings, al is dit gebore uit ‘n poenskop ouer, nie enige poenskopgene dra nie.

Wanneer twee heterosigotiese poenskop (PH) diere egter met mekaar gekruis word is daar ‘n 25% kans dat die nageslag homosigoties poenskop (PP) kan wees, ‘n 50% kans dat hulle heterosigoties (PH) poenskop gaan wees en ‘n 25% kans dat hulle homosigoties horing (HH) gaan wees.

Die maklikste manier om te bepaal of ‘n dier die poenskopgeen dra is om rekord te hou van watter diere onthoring is as kalwers. Dit is wel nie moontlik wanneer onthoring-salf gebruik word nie. Die sekerste manier is egter om die dier se DNS vir die geen by ‘n laboratorium te laat toets. Hierdie toets toon duidelik of die dier homo-of heterosigoties poenskop is.

Min telers is moontlik bewus daarvan dat die Genootskap duidelike maatreëls in plek het vir die registrasie van poenskopdiere. Hierdie reëls het onstaan voor die ontwikkeling van DNS toetse vir die poenskopgeen. Die Genootskap se grondwet bepaal dat enige poenskop dier se naam as agtervoegsel sy poenskop status moet toon. Die reëls beskryf in baie detail hoe die registrasie en identifisering moet plaasvind en kan in die Grondwet op die webtuiste besigtig word.

Die Grondwet stipuleer ook dat indien ‘n kalf met horings of gebore word uit ‘n dier met die agtervoegsel P of PP, dat die ouers se agtervoegsel sodanig na PH verander sal word.

Hierdie reëls in die grondwet het hul oorsprong toe kuddeboeke nog gedruk was en poenskopdiere of enige dier gebore vanuit ‘n poenskop ouer, ongeag of die dier wel horings gehad het, in die poenskop afdeling geregistreer is. Namate die rekords elektronies opgeneem is, het hierdie stelsel verval, maar Logix maak steeds voorsiening vir die aantekening van horing status wat ook in die gedrukte katalogusse verskyn.

Dit mag dalk vir vandag se telers na baie administrasie en moeite lyk om enigsins in die teel van poenskopdiere te gaan, maar ten tyde van die opstel van hierdie afdeling in die Grondwet was DNS toetse vir die poenskopgeen nog nie moontlik nie. Die Grondwet sal heel moontlik in hierdie verband aangepas moet word. Wat wel duidelik is uit hierdie afdeling van die Grondwet is dat die opneem van poenskopdiere in die Sussex Genootskap geen ligte saak was nie.

Ten einde die kwaliteit van die poenskopdiere wat geteel word te verbeter en in ‘n rigting te beweeg waar al die poenskopdiere binne die ras homosigoties poenskop is, is dit belangrik dat enige poenskop teelprogram baie goed beplan en wel deurdag moet wees. Lukrake teling en die verkoop van nie-geverivieërde poenskopdiere sal die ras net skade berokken. Laat jou poenskopbulle se DNS toets vir die geen en dring aan op die DNS resultate van enige bulle wat jy as poenskop koop. Laat die DNS van al die koeie in jou poenskop program ook toets. Dit is die sekerste en vinnigste manier om spoedig vordering te maak in die teel van homosigotiese poenskop diere.

Ten einde die kwaliteit van die horing kuddes te bewaar is dit egter ook belangrik om nie horing diere wat uit poenskop ouers gebore is, as horing diere aan ander stoettelers te verkoop of in jou horing kuddes te gebruik nie. Verkoop hierdie bulle slegs aan kommersiële telers as horing bulle, want soos voorheen genoem, dra geen dier wat met horings gebore word die poenskopgeen nie, al is dit uit poenskop ouers.

Vir enige verder navrae rakende die opstel van ‘n poenskopteel-program en die DNS toetse is u welkom my te kontak by enrico.cronje@re.co.za