Oos-Vrystaat Sussex klub – Jimmy Roos Skool inligtingsdag

Sussex, Sussex, Sussex, op almal se lippe!

‘n Oopgestrekte blou watermassa, met pragtige rooibruin Sussex-koeie in die verte…

Dit is die gesig van die boeredag wat gehou is op 13 Mei 2021, by Jimmy Roosskool naby Dewetsdorp.  Hierdie dag is gereël deur die Oos-Vrystaat Sussex Klub.

Wat ‘n lekker gesellige dag!!  Boere groet mekaar vriendelik en gesels oor die goeie reënseisoen.  Ou bekendes vang op en ander maak nuwe vriende.

Die dag skop af met verwelkoming deur mnr. Arno Cronjé, President van die Sussex Genootskap.   ‘n Insiggewende voorlegging is gedoen deur Voermol en United Seeds.  Mnr. Willie Lombard gee ‘n oorsig oor die Sussex Boerdery wat tans ‘n baie gevestigde boerdery by Jimmy Roosskool is.

Hierdie boerdery spog tans met 700 kommersiële Sussex diere wat oor ‘n periode van sowat 11 jaar opgebou is vir die skool onder leiding van mnr Willie Lombaard. Oor die afgelope 11 jaar is slegs top geregistreerde medium raam Sussex bulle gebruik wat hoofsaaklik uit die Oos-Kaap by gerespekteerde telers gekoop is. Die eenvormigheid en kwaliteit van die vroulike diere onderskryf die waarde van die gebruik van top bulle in kommersieële kuddes om genetiese vordering te verseker.

‘n Praktiese bespreking van die Sussex se eienskappe word op koeie, wat deur die skool voorsien is, gedoen deur mnr. Trevor Stotter. Mnr Stotter is reeds vanaf die aanvang van die kudde nou betrokke en hy deel sy jarelange kennis met die besoekers oor die rol van Sussex in die bedryf.

Die dag word afgesluit soos net die Suid-Vrystaters kán……. met twee skape wat gespit word.

 – Henk Botha