Raspromosie en Rasstandaarde Simposium – 3 en 4 Februarie 2022

Danksy u positiewe betrokkenheid en deelname aan die onlangse bemarkings vraelys het die raad dit nodig geag om weer ‘n raspromosie simposium te hou.

Daar het baie interessante feite na vore gekom uit u antwoorde op die vrae in die onlangse opname, wat verdere bespreking noodsaak, en daar is geen beter manier as om dit tydens ‘n groepsbespreking te hanteer nie. Ons beplan om dit op 3 en 4 Februarie 2022 in Bloemfontein te hou waar ons in detail terugvoering sal gee en dan die basis sal skep vir ons promosie strategie vorentoe.

Dit is ook die gebruik om sovêr moontlik elke jaar ‘n senior keurders simposium te hou, en het ons besluit dat ons dit hierdie jaar gaan kombineer met die raspromosie simposium. Ons gaan dit egter nie beperk tot slegs senior keurders nie maar alle lede. Enrico Cronje sal terugvoer gee en gesprek lei rondom teelwaardes, genomika en die indiening van data, en mnr Martin Seyfferdt sal die praktiese gedeelte van die rasstandaarde hanteer.  

Ek doen ‘n beroep op u om nie hierdie geleentheid te mis nie, want dit is ‘n gulde geleentheid om u persoonlike bydrae tot die uitbreiding van die ras te maak, en sodoende ook mede telers te leer ken en verhoudinge te bou. Ons is ‘n klein genootskap met slegs 42 lede en het elkeen van u se insette nodig.